“Die skool het begin. Ek weet nog nie wie my ‘eye’ gaan wees nie, maar ek weet wie my vriende is: Nadia, Anna en Lily.”
21 – 30 Januarie 1998
In 1998 was die sosiale kaart van ’n Standerd 5-klas duideliker as enige aardrykskunde-kaart. Aan die bopunt van die voedselketting was Susan. Sy was die "Queen Bee", die meisie wat bepaal het wat cool is en wie mag saampraat. Sy het ook weekliks besluit wat aangetrek moet word vir Woensdae se kinderkrans. Een van my dapperste oomblikke die vorige jaar, 'n oomblik wat ek vandag nog soos ’n klein medalje in my hart dra, was toe ek vir haar reguit gesê het: Nee dankie. Ek wou nie deel van haar eksklusiewe groepie wees nie. Ek het selfs teen die kinderkransklere-drag rebelleer deur 'n gereeld my ma se oorgrote swart knopiestrui te dra ongeag wat die weer was (ek wonder of sy dit nog ooit nog het).
Nietemin, ek het my eie mense gehad: Nadia, Anna en Lily. Ons het dalk nie die skool "gerule" nie, maar ons het mekaar gehad. Ons was vreemd, anders as die ander en in die gange van ’n Namakwalandse laerskool was dit goud werd.
Dit was in hierdie weke dat Johan ook weer sy verskyning gemaak het. Hy was reeds daar sedert ons van die Boesmanland af getrek het, ’n konstante skaduwee in my lewe. Hoewel die dagboek vol "hartskloppie-oomblikke" oor hom sou word, was die fondasie van alles ’n diep vriendskap wat tot aan die einde van ons skooljare sou hou.
Omdat ek toe reeds dinge dieper gevoel het as wat ek kon verwoord, het ek begin briewe skryf. Ek het briewe vir almal geskryf, vir vriende, vir vyande, en vir seuns op wie ek skelmpies verlief was. In ’n tyd voor WhatsApp was die vou van ’n briefie in ’n ingewikkelde driehoekie ’n kunsformule. Maar daar was ook die ander briewe. Die briewe wat nooit afgelewer is nie. Die briewe wat ek geskryf het net om die onsekerheid van my skouers af te kry en die emosies op papier te tem. Ek doen dit vandag nog; party dinge is net te groot om hardop te sê sonder dat die pen dit eers help sorteer.
In graad 7 was my hart soos ’n oop venster. Enige seun wat my "gesien" laat voel het, het my laat glo in die Disney-tipe romanse wat ek en Anna gereeld op hulle plaas een na die ander opgeslurp het. Ek het vriendskappe met die seuns gebou, dalk hopende op meer, maar altyd met die behoefte om deel van hulle wêreld te wees. Ek het gereeld advies gegee en 'n selfaangestelde mediator om misverstande op te los. Dit het my dertig jaar geneem om te besef dat daardie einste eienskap wat my ’n goeie vriendin gemaak het, ook die een was wat mense toegelaat het om my uit te buit en net so amper, te breek.
Ek het eers onlangs geleer hoe om "Nee" te sê sonder om omverskoning te vra. Ek moes leer dat om grense te stel nie beteken jy is onvriendelik of dislojaal nie; dit beteken jy is getrou aan jouself, presies soos daardie dag toe ek vir Susan gesê het ek gaan nie in haar groepie wees nie. Ek vind dit vreemd dat mens as kind meer braaf is of is dit omdat dit sosiaal aanvaarbaar om halstarrig te wees as gevolg van jou ontwikkelingsjare van tiener word en wees?
Vandag het ek nie regtig meer kontak met meeste van my skoolvriende nie. Die vriendskappe het soos die Namakwalandse blomme gekom en gegaan. Maar die lesse oor wie ek is, het daar in daardie klaskamer-bankies begin wortel skiet.
Comments
Post a Comment