Skip to main content

Briefies aan Niemand en die Skaduwee van die Queen Bee

“Die skool het begin. Ek weet nog nie wie my ‘eye’ gaan wees nie, maar ek weet wie my vriende is: Nadia, Anna en Lily.” 

21 – 30 Januarie 1998

In 1998 was die sosiale kaart van ’n Standerd 5-klas duideliker as enige aardrykskunde-kaart. Aan die bopunt van die voedselketting was Susan. Sy was die "Queen Bee", die meisie wat bepaal het wat cool is en wie mag saampraat. Sy het ook weekliks besluit wat aangetrek moet word vir Woensdae se kinderkrans. Een van my dapperste oomblikke die vorige jaar, 'n oomblik wat ek vandag nog soos ’n klein medalje in my hart dra, was toe ek vir haar reguit gesê het: Nee dankie. Ek wou nie deel van haar eksklusiewe groepie wees nie. Ek het selfs teen die kinderkransklere-drag rebelleer deur 'n gereeld my ma se oorgrote swart knopiestrui te dra ongeag wat die weer was (ek wonder of sy dit nog ooit nog het). 

Nietemin, ek het my eie mense gehad: Nadia, Anna en Lily. Ons het dalk nie die skool "gerule" nie, maar ons het mekaar gehad. Ons was vreemd, anders as die ander en in die gange van ’n Namakwalandse laerskool was dit goud werd. 

Dit was in hierdie weke dat Johan ook weer sy verskyning gemaak het. Hy was reeds daar sedert ons van die Boesmanland af getrek het, ’n konstante skaduwee in my lewe. Hoewel die dagboek vol "hartskloppie-oomblikke" oor hom sou word, was die fondasie van alles ’n diep vriendskap wat tot aan die einde van ons skooljare sou hou.

Omdat ek toe reeds dinge dieper gevoel het as wat ek kon verwoord, het ek begin briewe skryf. Ek het briewe vir almal geskryf, vir vriende, vir vyande, en vir seuns op wie ek skelmpies verlief was. In ’n tyd voor WhatsApp was die vou van ’n briefie in ’n ingewikkelde driehoekie ’n kunsformule. Maar daar was ook die ander briewe. Die briewe wat nooit afgelewer is nie. Die briewe wat ek geskryf het net om die onsekerheid van my skouers af te kry en die emosies op papier te tem. Ek doen dit vandag nog; party dinge is net te groot om hardop te sê sonder dat die pen dit eers help sorteer.

In graad 7 was my hart soos ’n oop venster. Enige seun wat my "gesien" laat voel het, het my laat glo in die Disney-tipe romanse wat ek en Anna gereeld op hulle plaas een na die ander opgeslurp het. Ek het vriendskappe met die seuns gebou, dalk hopende op meer, maar altyd met die behoefte om deel van hulle wêreld te wees. Ek het gereeld advies gegee en 'n selfaangestelde mediator om misverstande op te los. Dit het my dertig jaar geneem om te besef dat daardie einste eienskap wat my ’n goeie vriendin gemaak het, ook die een was wat mense toegelaat het om my uit te buit en net so amper, te breek.

Ek het eers onlangs geleer hoe om "Nee" te sê sonder om omverskoning te vra. Ek moes leer dat om grense te stel nie beteken jy is onvriendelik of dislojaal nie; dit beteken jy is getrou aan jouself, presies soos daardie dag toe ek vir Susan gesê het ek gaan nie in haar groepie wees nie. Ek vind dit vreemd dat mens as kind meer braaf is of is dit omdat dit sosiaal aanvaarbaar om halstarrig te wees as gevolg van jou ontwikkelingsjare van tiener word en wees?

Vandag het ek nie regtig meer kontak met meeste van my skoolvriende nie. Die vriendskappe het soos die Namakwalandse blomme gekom en gegaan. Maar die lesse oor wie ek is, het daar in daardie klaskamer-bankies begin wortel skiet.

Comments

Popular posts from this blog

Waar die sand en drome ontmoet.

As ek vandag my oë toemaak en aan 1998 dink, proe ek eers die stof. Dit is nie sommer enige stof nie. Dit is daardie fyn, rooierige Namakwalandse sand wat in elke spleet van jou lewe inkruip, in jou tekkies, in die rante van jou skoolboeke, en selfs in die geheime wat jy dink jy wegsteek. Ek skryf hierdie woorde as ’n vrou van amper 41, maar ek skryf hulle om die meisie te ontmoet wat ek dertig jaar gelede was. ’n Meisie wat op die drumpel van twaalf gestaan het, vasgevang in die niemandsland tussen poppe en "partyjies". Namakwaland in die laat negentigerjare was ’n vreemde, heerlike paradoks. Dit was ’n wêreld wat gedraai het om die uiterstes van die seisoene. Die hitte in die somer was nie net ’n temperatuur nie; dit was ’n fisiese gewig wat jou dwing om stadiger te beweeg, om skuiling te soek onder die groot boom in die parkie agter ons huis (ek was gewoontlik binne die boom). Maar dan was daar die winters. Daardie koue oggende wat jou longe laat brand het, gevolg deur die...

Swart Politoer, Disney-drome en die Drumpel van Dapperheid

  “Die skool begin oor 6 dae... ek kan nie wag nie. Ek en my pelle gaan die skool ‘rule’.  Standerd 5, hier kom ons.” 14 – 20 Januarie 1998 Daar is ’n spesifieke ritueel aan die einde van ’n somervakansie wat elke kind van die 90’s sal onthou: die oomblik wanneer jy daardie stowwerige skoolskoene agter uit die kas grawe. As die derde kind in 'n gesin wat die roete na laaste jaar van die laerskool stap, was daar nie altyd die opwinding van splinternuwe skoene wat nog in sneespapier toegedraai is nie. Die rok se soom is ook tot op sy einde vasgewerk, tog het ek heel duidelik nie veel langer geword nie. M y voorbereiding was ’n stryd teen die elemente. Ek moes daardie skoene, wat aan die einde van die vorige jaar wit-warm gebrand en vol stof in die kas gegooi is, met lae en lae swart politoer probeer terug dwing na hulle vorige glorie. Terwyl die meeste van my skryfbehoeftes ’n versameling van vorige jare se oorskiet was soos bietjie korter potlode en ’n liniaal met ’n paar skrap...

Sjampanje, Tom Hanks en die Aftelling na Standerd 5

“Wel, dis die begin van ‘n nuwe jaar en dit het nie te bad begin nie... Shampagne-ontbyt... Chinese braai... Die skool begin oor 20 dae en dan is ek Standerd 5. ”  1-3 Januarie 1998 Die oorgang van een jaar na die volgende voel in Namakwaland altyd ’n bietjie meer dramaties. Miskien is dit die hitte wat alles dikker laat voel, of die manier waarop die stilte van die vakansie swaar op die dorpie rus. 1998 het nie met ’n slag begin nie; dit het begin met die geklink van glase en die reuk van ’n Chinese braai. Hierdie was nogal 'n spesifieke 90’s-manier van kuier waar die volwassenes om ’n raserige elektriese plaat rondstaan en ons as kinders aan die rande van hulle gesprekke beweeg.  A s twaalf-, amper dertienjarige is jy ’n tipe "sosiale spioen". Jy hoor alles, jy sien alles. Tog het die ouers vrede as die k inders net gesien en nie gehoor word nie. Ek was nie meer so seer 'n kind nie,  maar ook glad nie deel van die grootmenswêreld nie.  Ons het dus gereeld met sulke...