Die oorgang van een jaar na die volgende voel in Namakwaland altyd ’n bietjie meer dramaties. Miskien is dit die hitte wat alles dikker laat voel, of die manier waarop die stilte van die vakansie swaar op die dorpie rus. 1998 het nie met ’n slag begin nie; dit het begin met die geklink van glase en die reuk van ’n Chinese braai. Hierdie was nogal 'n spesifieke 90’s-manier van kuier waar die volwassenes om ’n raserige elektriese plaat rondstaan en ons as kinders aan die rande van hulle gesprekke beweeg.
As twaalf-, amper dertienjarige is jy ’n tipe "sosiale spioen". Jy hoor alles, jy sien alles. Tog het die ouers vrede as die kinders net gesien en nie gehoor word nie. Ek was nie meer so seer 'n kind nie, maar ook glad nie deel van die grootmenswêreld nie. Ons het dus gereeld met sulke geleenthede stil-stil met kattekwaad weggekom; veral wanneer die nefies kom kuier het. Gelukkig verstaan jy op daardie ouderdom ook nie altyd die volwassenes se grappies nie. (Ek het gister bloedrooi gebloos na my pa 'n skurwe storie vertel het.)
Daardie eerste dae van die jaar was gevul met tannies en ooms wat kom kuier, sjampanje-ontbyte en die gevoel van ’n huis vol mense, nuwe vooruitsigte en nuwe avonture. In die kombuis het die reuk van spek en vars vrugte gemeng met die effense suur reuk van oopgemaakte vonkelwyn. Ons was toe ook oud genoeg om saam aan Mimosa's te teug, al het ek seker eers 15 jaar later van die naam te hore gekom.
Maar sodra die kuiergaste ry en die skottelgoed gewas is, tref die vakansie-verveeldheid jou soos ’n droë Namib-wind. Die 2de Januarie was die tipe dag wat net in ’n klein dorp kan bestaan. My pa en jongste suster is plaas toe en as ek reg onthou het die ander twee toe reeds oor Desembervakansies gewerk. Die huis was skielik te groot en ek wag dus tot 10 voor 12 om op te staan, ’n tipe luuksheid wat net 'n skoolvakansie kan bied.
Elke dag stap jy na die dorp om die nuutste film van die rak af te haal of te bespreek indien dit reeds geneem is. Ek onthou hoe ek voor die dik televisie gesit het en een film na die ander gekyk het soos Tom Hanks se storie oor ’n "one-hit wonder" band in die sestigerjare, hat Thing You Do, het vir my soos ’n venster na ’n ander wêreld gevoel. Dit was ’n wêreld van opwinding, musiek en groot drome, ’n skerp kontras met die stowwerige parkie agter ons huis waar die hitte alles tot stilstand gedwing het. Later het The Nutty Professor en The Truth About Cats and Dogs gevolg. Ons het geleef van gehuurde VHS-bande wat jy moes terugrol voordat jy dit voor 10uur terugneem videowinkel toe, anders kry jy ’n boete. "Be kind, rewind..."
Daar was ’n ongeduld in my wat ek destyds nie kon verduidelik nie. Ek het in my dagboek geskryf: “Ek wens die skool wil begin.”
Binne vandag se konteks klink dit mal waar ek met angs besef dat ek ook binnekort weer aan die werk moet kom. Watter kind wens dat die vakansie moet eindig? Die laatslaap, die swem en fietsry saam met maters? In daardie tyd van my lewe was die skool nie net ’n plek van leer nie. Dit was die agtergrond waarin my lewe afgespeel het. Skool was waar my vriende was, waar die seuns was waaroor ek nagte lank gedroom het, en veral: 1998 was die jaar van Standerd 5.
In ons koppe was dit die toppunt van mag in die laerskool. Jy is die oudste en die belangrikste in die skool. Jy is uiteindelik die een wat die reëls (stilletjies) kan begin buig. Jy het die gesag om in die gange te loop asof die skool aan jou behoort. Die 20 dae wat voorgelê het, het soos ’n ewigheid gevoel. Ek was reg vir die "show" om te begin.
Intussen het ek in my nuwe dagboek geskryf oor die Kersgeskenke wat ek gekry het, ’n lysie van skatte wat nou vir my soos relieke uit ’n ander eeu voel. Maar tussen die lysies en die video-resensies, was daar ’n onderstroom van afwagting. Ek het nog nie geweet wie my "eye" sou wees nie, daardie een ou wat my hele wêreld sou laat kantel nie. Ek het nog nie geweet van die briewe wat geskryf sou word, die trane wat sou vloei oor vriendskappe wat tot breekpunt getoets sou word nie.
Die jaar het dalk "nie te bad" begin nie. Maar die stilte van daardie eerste paar Januarie-dae was bloot die stilte voor die storm. Die Namakwalandse sand was besig om warm te bak, en my storie was reg om te ontplof.
Comments
Post a Comment