“Die skool begin oor 6 dae... ek kan nie wag nie. Ek en my pelle gaan die skool ‘rule’. Standerd 5, hier kom ons.”
14 – 20 Januarie 1998
Daar is ’n spesifieke ritueel aan die einde van ’n somervakansie wat elke kind van die 90’s sal onthou: die oomblik wanneer jy daardie stowwerige skoolskoene agter uit die kas grawe. As die derde kind in 'n gesin wat die roete na laaste jaar van die laerskool stap, was daar nie altyd die opwinding van splinternuwe skoene wat nog in sneespapier toegedraai is nie. Die rok se soom is ook tot op sy einde vasgewerk, tog het ek heel duidelik nie veel langer geword nie. My voorbereiding was ’n stryd teen die elemente. Ek moes daardie skoene, wat aan die einde van die vorige jaar wit-warm gebrand en vol stof in die kas gegooi is, met lae en lae swart politoer probeer terug dwing na hulle vorige glorie.
Terwyl die meeste van my skryfbehoeftes ’n versameling van vorige jare se oorskiet was soos bietjie korter potlode en ’n liniaal met ’n paar skrape, was daar een ding wat splinternuut en heilig was: my skooldagboek.
Maande voor die tyd het ek al begin. Ek het prentjies uitgeknip en geplak, die bladsye versier en ’n "mood" geskep vir die jaar wat voorlê. Daardie dagboek het geruik na nuwe papier en moontlikhede, al is dit daardie tyd net vir huiswerknota's gebruik. Dit was die enigste plek waar ek nie die "derde kind" was nie, maar die hoofkarakter in my eie fliek.
In my kop was 1998 nie net nog ’n skooljaar nie. Dit was my "coming of age" oomblik. Gevoed deur ’n dieet van Disney-films en tienerdramas op VHS, het ek met ’n absolute selfvertroue die skoolgrond betree. Ek het geweet wie my vriende is, die "pelle" wat my sou ondersteun deur dik en dun. Ons was die groot kinders van die skool. Die kamp na Groot Brak het op die horison gewag en die wêreld het vir ’n oomblik wonderlik, opwindend en beheerbaar gevoel.
Maar onder daardie selfvertroue was daar ’n pragtige, gevaarlike naïwiteit wat steeds aan my vasgemaak is.
In Standerd 2 (Graad 4) het ons al begin "kys". Dit was onskuldig, ’n skaam kykie in die gang, ’n "hallo" wat jou maag laat draai het en soms het julle saam pouses in die stof albasters gespeel. My verbeelding, gevorm deur sprokies en popmusiek, het van liefde iets groters gemaak as wat dit op daardie ouderdom ooit kon wees. Ek het gedink ek weet wat dit beteken om my hart te gee en het altyd uitgekyk vir die held-op-die-wit-perd op die horison.
Vandag, as ek terugkyk na daardie meisie wat met haar blinkgepoleerde skoene op die skoolstoep staan, sien ek iemand wat ongelooflik dapper was. Sy was bereid om haar hele hart in ’n dagboek uit te stort en die wêreld met ope arms te ontmoet. Maar ek sien ook iemand wat nog nie geleer het van grense nie. Sy sou altyd ander mense se behoeftes bo haar eie stel, altyd probeer om die vrede te bewaar, altyd die een wees na wie almal gekom het vir advies.
Sy het nie geweet dat 1998 die jaar sou wees waar sy sou moes leer dat nie almal jou hart met dieselfde sorg hanteer as wat jy hanteer nie.
Die skoolklok het gelui. Die dagdroom verby. Die regte storie was besig om te begin.
Dit het my jare geneem, om die realiteit van menswees te aanvaar; om die grense te stel wat daardie 13-jarige meisie nog nie geken het nie. Ons leer as kinders dikwels dat om "goed" te wees beteken om jouself op te offer. As ek vandag langs haar in daardie sandparkie kon sit, sou ek vir haar sê: "Jou dapperheid is jou krag, maar jou hart is jou eie, jy hoef dit nie vir almal weg te gee om waardevol te wees nie."
Was jy ook die kind wat maande voor die tyd jou dagboek of skooltassie reggekry het? Of was jy die een wat die aand voor die tyd nog naarstiglik jou skoolskoene probeer politoer het?
Comments
Post a Comment