As ek vandag my oë toemaak en aan 1998 dink, proe ek eers die stof.
Dit is nie sommer enige stof nie. Dit is daardie fyn, rooierige Namakwalandse sand wat in elke spleet van jou lewe inkruip, in jou tekkies, in die rante van jou skoolboeke, en selfs in die geheime wat jy dink jy wegsteek. Ek skryf hierdie woorde as ’n vrou van amper 41, maar ek skryf hulle om die meisie te ontmoet wat ek dertig jaar gelede was. ’n Meisie wat op die drumpel van twaalf gestaan het, vasgevang in die niemandsland tussen poppe en "partyjies".
Namakwaland in die laat negentigerjare was ’n vreemde, heerlike paradoks. Dit was ’n wêreld wat gedraai het om die uiterstes van die seisoene. Die hitte in die somer was nie net ’n temperatuur nie; dit was ’n fisiese gewig wat jou dwing om stadiger te beweeg, om skuiling te soek onder die groot boom in die parkie agter ons huis (ek was gewoontlik binne die boom). Maar dan was daar die winters. Daardie koue oggende wat jou longe laat brand het, gevolg deur die wonderwerk van die blomseisoen wanneer die dorre aarde oornag in ’n tapyt van oranje en pers verander het nadat die omgewing met 'n goeie reënseisoen geseën is. Dit was asof die natuur self aan ons probeer sê het: Wag net, alles kan binne ’n oomblik verander.
In 1998 was ons "connected", maar op ’n manier wat vandag se generasie nooit sal verstaan nie. Ons verbinding was nie ’n veselkabel nie; dit was die fisiese teenwoordigheid van vriende wat ongenooid by die agterdeur instap. Ons huis was ’n hawe van konstante beweging. Die klank van die rondomtalie wat in die parkie kners, die reuk van warm teer op die sypaadjies waar ons fiets gery het, en die ritueel om video’s by die plaaslike videowinkel uit te neem. Dit was die ritme van my bestaan.

My lewe het gevoel soos ’n screensaver op daardie eerste massiewe rekenaars: ’n beeld wat herhaal en herhaal terwyl jy wag vir die werklike "modem" om in te skakel en die res van die wêreld vir jou oop te maak. Ek onthou graag hoe ons op iemand moes skree "Klim van die internet af; ek wil bel!"En in 'n huis van vier dogters was daar nogal gereeld 'n geskreeu.
Ek het onlangs my ou dagboeke van skool herontdek en ek het sedertdien nooit regtig ophou skryf nie, net op ander plekke soos briewe, eposse, verskeie pogings vir blog-inskrywings en selfs kommentaar oor die mense om my tydens 'n vervelige vergadering. Op die eerste blad van my 1998-dagboek staan daar in dapper letters: “Beware the hook, beware the crook. Beware the one who reads my book.” Dit was my heilige ruimte. Daarin het ek die "Groot Verskuiwing" van Standerd 5 gedokumenteer. Natuurlik het ek vas geglo dat niemand dit durf lees nie, tog weet ek dat almal in my familie het dit heel waarskynlik onder oë gehad.
In hierdie blog-reeks wil ek versigtig tog braaf hierdie dagboeke een vir een oopmaak. Nie net om te lag vir my 12-jarige self se dramas oor al die seuns waarop ek in een jaar verlief geraak het nie. Asook nie vir my obsessie met die Backstreet Boys nie, maar om weer daardie rou eerlikheid van myself te vind. Dit is ’n storie oor grootword in ’n klein dorp, oor die kompleksiteit van meisievriendskappe wat binne ’n middag kan ontplof, en oor daardie oomblik wanneer jy besef dat die grootmense in jou lewe ook net mense is – met hulle eie geheime wat bo-op kaste weggesteek word.
1998 was die jaar toe ek geleer het dat "verlief wees" ’n siekte kan wees, dat "pelle" jou lugtoevoer is, en dat die toekoms op die horison wag soos die hoërskool-gebou wat bokant die laerskool uitgetroon het.
So, haal jou rolskaatse uit, sit jou Titanic-klankbaan kliphard op, en stap saam met my terug na die stofparkie agter my huis. Kom ons gaan ontmoet die meisie wat ek was, voor die wêreld te vinnig en te wreed geword het. Voor ons moes besef dat ons eie drome ook maar net van wolke gemaak is wat sonder enige waarskuwing kan verdwyn.
Welkom by my 1998, dit gaan ’n wilde "ride" wees.
Wat was die liedjie wat jou 1998 gedefinieer het?
Song 2 - Blur
ReplyDeleteEk moes nou eers na die liedjie gaan soek. Ek onthou dit nogal, het wel nooit geweet wat die naam is nie... https://www.youtube.com/watch?v=SSbBvKaM6sk
Delete