Skip to main content

Fietsry-vryheid en die Reuk van Chloor

 “Vandag was die beste dag... Ons het die hele middag gery... Die water was koud, maar wie gee om? Die son brand, maar ons is Standard 5!” - Februarie 1998

As ek vandag my oë toemaak en aan Februarie 1998 dink, sien ek nie klaskamers of handboeke nie. Ek sien die skittering van die middagson op ’n chloorblou swembad en die stofwolkies wat agter my fiets opskiet.

Daar is ’n spesifieke tipe vryheid wat jy net op ’n fiets beleef. In ons klein dorpie was jou fiets jou paspoort. Ek, Nadia, Anna en Lily was soos ’n klein bende op wiele. Ons het nie gewag vir ma of pa om ons iewers heen te ry nie; ons het net ons handdoeke oor ons skouers gegooi, die "kickstands" opgeskop en gery tot waar die pad ophou en die avontuur begin.

Die hitte van die Noord-Kaap was nie iets wat ons gekeer het nie. Dit was die rede waarom ons geleef het. Ons het gejaag teen die bultjies op, die wind (hoe warm ook al) in ons gesigte, met die absolute wete dat die middag aan ons behoort.

En dan... die swembad. Nie enige swembad nie. Die polisieklub se swembad!

Daardie oomblik wanneer jy van jou fiets afspring, jou skoene van jou voete skop en die koue water tref. Dit was die klankbaan van daardie somer: die geskree van kinders, die geruik van sonbrandolie en die smaak van ’n koue vries-outjie (daardie lang, gekleurde ysies in die plastiekbuisies) wat jy by die snoepie gekoop het. In die water was ons almal gelyk. Daar was geen "Queen Bees" of skoolwerk nie; net die kompetisie oor wie die langste onder die water kan bly of wie die grootste "bomb" kan gooi.

Tussen die swem en die lag deur het ons op ons handdoeke gelê en bak, ons hare nat en deurmekaar. Dit was hier waar die drome gedeel is. Ons het gepraat oor die kamp wat kom, oor watter seuns eintlik "oukei" is, en oor hoe ons nooit, ooit wil grootword nie.

In daardie oomblikke het die wêreld blink en nuut gevoel. Die sorge van "wie hou van wie" en die drama van skoolbriewe het vir ’n paar uur verdwyn. Ons was net kinders van die son, vry en onstuitbaar.

As ek vandag terugkyk, besef ek dat daardie middae die "battery-laaier" vir my siel was. Ons leef vandag in ’n wêreld van skerms en binnenshuise gemak, maar daar is iets aan die rou energie van buite speel wat geen toepassing op ’n foon kan vervang nie.

Daardie dapperheid waarvan ek vantevore gepraat het? Dit het daar in die swembad en op die fietse gegroei. Dit was die dapperheid om vinniger te ry, dieper te duik en harder te lag. Soms vergeet ons as volwassenes om net in die water te spring sonder om eers te voel hoe koud dit is.

Februarie 1998 het my geleer dat, selfs wanneer die lewe ingewikkeld raak, daar altyd ’n plek is waar die son skyn en die water reg is. Jy moet net jou fiets kry en soontoe ry.

Comments

Popular posts from this blog

Waar die sand en drome ontmoet.

As ek vandag my oë toemaak en aan 1998 dink, proe ek eers die stof. Dit is nie sommer enige stof nie. Dit is daardie fyn, rooierige Namakwalandse sand wat in elke spleet van jou lewe inkruip, in jou tekkies, in die rante van jou skoolboeke, en selfs in die geheime wat jy dink jy wegsteek. Ek skryf hierdie woorde as ’n vrou van amper 41, maar ek skryf hulle om die meisie te ontmoet wat ek dertig jaar gelede was. ’n Meisie wat op die drumpel van twaalf gestaan het, vasgevang in die niemandsland tussen poppe en "partyjies". Namakwaland in die laat negentigerjare was ’n vreemde, heerlike paradoks. Dit was ’n wêreld wat gedraai het om die uiterstes van die seisoene. Die hitte in die somer was nie net ’n temperatuur nie; dit was ’n fisiese gewig wat jou dwing om stadiger te beweeg, om skuiling te soek onder die groot boom in die parkie agter ons huis (ek was gewoontlik binne die boom). Maar dan was daar die winters. Daardie koue oggende wat jou longe laat brand het, gevolg deur die...

Swart Politoer, Disney-drome en die Drumpel van Dapperheid

  “Die skool begin oor 6 dae... ek kan nie wag nie. Ek en my pelle gaan die skool ‘rule’.  Standerd 5, hier kom ons.” 14 – 20 Januarie 1998 Daar is ’n spesifieke ritueel aan die einde van ’n somervakansie wat elke kind van die 90’s sal onthou: die oomblik wanneer jy daardie stowwerige skoolskoene agter uit die kas grawe. As die derde kind in 'n gesin wat die roete na laaste jaar van die laerskool stap, was daar nie altyd die opwinding van splinternuwe skoene wat nog in sneespapier toegedraai is nie. Die rok se soom is ook tot op sy einde vasgewerk, tog het ek heel duidelik nie veel langer geword nie. M y voorbereiding was ’n stryd teen die elemente. Ek moes daardie skoene, wat aan die einde van die vorige jaar wit-warm gebrand en vol stof in die kas gegooi is, met lae en lae swart politoer probeer terug dwing na hulle vorige glorie. Terwyl die meeste van my skryfbehoeftes ’n versameling van vorige jare se oorskiet was soos bietjie korter potlode en ’n liniaal met ’n paar skrap...

Sjampanje, Tom Hanks en die Aftelling na Standerd 5

“Wel, dis die begin van ‘n nuwe jaar en dit het nie te bad begin nie... Shampagne-ontbyt... Chinese braai... Die skool begin oor 20 dae en dan is ek Standerd 5. ”  1-3 Januarie 1998 Die oorgang van een jaar na die volgende voel in Namakwaland altyd ’n bietjie meer dramaties. Miskien is dit die hitte wat alles dikker laat voel, of die manier waarop die stilte van die vakansie swaar op die dorpie rus. 1998 het nie met ’n slag begin nie; dit het begin met die geklink van glase en die reuk van ’n Chinese braai. Hierdie was nogal 'n spesifieke 90’s-manier van kuier waar die volwassenes om ’n raserige elektriese plaat rondstaan en ons as kinders aan die rande van hulle gesprekke beweeg.  A s twaalf-, amper dertienjarige is jy ’n tipe "sosiale spioen". Jy hoor alles, jy sien alles. Tog het die ouers vrede as die k inders net gesien en nie gehoor word nie. Ek was nie meer so seer 'n kind nie,  maar ook glad nie deel van die grootmenswêreld nie.  Ons het dus gereeld met sulke...